Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

1 Chronicles 20

:
Afrikaans - AFR20
1 Teen die jaarwending, wanneer die konings op veldtogte uittrek, het Joab die leërmag gelei en die land van die Ammoniete verwoes. Hy het die land binnegedring en Rabba beleër. Dawid het egter in Jerusalem agtergebly. Joab het Rabba verslaan en dit afgebreek,
2 en Dawid het hulle koning se kroon van sy kop afgehaal en gevind dat die gewig daarvan 'n kikkar goud was, en dat daar edelstene in was. Dit is op Dawid se kop geplaas. Die buit van die stad wat hy weggevoer het, was besonder groot,
3 en die mense wat daarin was, het hy uitgebring, en die stad met klipsae, ysterpikke en ysterbyle opgesny. So het Dawid telkens met al die dorpe van die Ammoniete gemaak. Toe het Dawid en al die manskappe na Jerusalem teruggekeer.
4 'n Tyd daarna het daar in Geser 'n geveg uitgebreek met die Filistyne. Dit was toe dat Sibbegai uit Gusa vir Sippai, uit die nageslag van Rafa, verslaan het; en so is die Filistyne op hulle knieë gedwing.
5 Daar was nog 'n geveg met die Filistyne. Elganan, seun van Jaïr, het Lagmi, die broer van Goliat, uit Gat, verslaan. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam.
6 Toe was daar weer 'n geveg in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet vier-en-twintig altesaam. Ook hy het van Rafa afgestam.
7 Hy het Israel uitgetart, maar Jonatan, seun van Simea, die broer van Dawid, het hom verslaan.
8 Dit was afstammelinge van Rafa in Gat, maar hulle het gesneuwel aan die hand van Dawid en sy dienaars.